Tuesday, 22 November 2016

Die gras dra 'n ligte, geel skynsel, en as die wind daardeur golf, dan wissel die groen en geel sag vervloeiend af op die rustige deining. Linda se vingers speel met die ryp grassate waar sy wandel na die tuin toe. In haar oë slaan die gloed op van die volrype somergroei: die goudgerande blaartjies voor haar wat lewenskugter ritsel in die wind, asof hulle elke oomblik kan losruk om grond toe te dwarrel: die syige grassate wat so mollig aai deur haar hand en dan weer regop kom om fyn, glansig te tower met die lig van die stygende môre-son. Die beet kleur donkerpers in die klam aarde en 'n gloed van hartstog straal uit die donker rose langs die windpomp, die oopgaande knoppe een wonder van tere ontroering waaruit die geure van frissoet lewe kom en waarin doudruppels glans in verborge skoonheid. Dit is of die somer om haar 'n afskeidshimne sing, noudat die groei en lewe voldrae is, en alles weer oorgegee sal word aan die verkwyning in die najaar, wanneer die geel, deurskynende blare sal dwarrel van die borne, die sagte tuingrond 'n kleed van geel, sterwende blare sal wees, agter die mure in die koelte nog ryp sal skitter, ryp wat die aarde hard maak en glasig dood daaraan klewe, en in die wye lug 'n verlatenheid sal huiwer, diep en ontroerend, 'n verlatenheid wat vol heimwee is en afskeid, en saans tasbaar opkom uit die lang stroke spierwit grassaad waar­in die sterwende son se strale lê.

O, haar hart huiwer; sy is bang vir wat kom. Uit die volgroeide somerlewe, die vlammende kleurgeweld om haar, die swaar geur van vrugte in die boord, die deursonde struike en plante en die groot sonnehemel so wyd stralend oor alles, kom die boodskap na haar gewonde hart: afskeid. Dit is die ware betekenis van die lewe; dat in alles wat vir jou skoonheid was, waar jou hart aan hang of jy dit nooit kan verloor nie, die afskeid reeds te lees is. So huiwer die afskeid nou in die voldrae lewe om haar. Die lewe het sy groeikrag aan die aarde gegee. Soos 'n wilde gejuig van kleure en uitbrekende lewe het die lente gekom en toe verdiep in die rus en die erns van die somer, en nou moet die najaar kom, en die natuur sal gaan slaap, 'n slaap so stil soos die dood self. Maar later kom die herontwaking, as die kragte weer gis. Maar die mens wat sterwe? En Hannes? Nooit keer hy weer terug nie ... Maar nooit is die lewe dieselfde as dit terugkom nie, altyd anders en tog dieselfde skeppende kragte. Die lewe gaan voort, en tog wil al wat bestaan, dit bly behou ... Hoe kan hulle ooit verstaan hoe nietig en klein elkeen is in die groot Gang, wat net vir ‘n oomblik in hulle lewe ...


Aanvang van slothoofstuk uit C. M. van den Heever se Somer, Tweede uitgawe, Agste druk, 1979 J. L. van Schaik, Pretoria.