Aantrekkingskrag
Deon Opperman
Ons verstaan vandag soveel meer as
ons voorvaders van 'n duisend, of selfs 'n honderd jaar gelede. Maar dit gesê,
weet niemand eintlik wat in die heelal aangaan nie. Ja, daar's teorieë, maar
elke generasie, sedert die ontstaan van die mens, glo dat hulle die finale
waarheid beet het. Vir eeue was die aarde plat, en toe, wonderwerk bo
wonderwerk, word hy rond; vir eeue was die aarde die middelpunt van die kosmos
- alles het om die aarde gedraai. Maar toe werk iemand uit hoe om 'n teleskoop
te maak en siedaar, was die son die middelpunt waarom alles draai. Nie dat
sulke nuus altyd welkom was nie - vra maar vir Galileo wat met verskriklike
marteling gedreig is en 'n paar ander wat op brandstapels gesterf het, maar op
die ou end het die waarheid geseëvier en is die aarde tot die derde stukkie
rots om die son verklaar. Gelukkig was ons son nog steeds die middel van die
kosmos, totdat daar besef is dat ons hele sonnestelsel maar net 'n klein
uithoekie van die melkweg is, en ons melkweg, op sy beurt, net een
sterrestelsel tussen ontelbare ander in die onmeetbare ruimte van 'n heelal so
onmeetbaar dat selfs Einstein van 'n god gepraat het. Vandag word daar geglo
dat tyd en ruimte 'n soort weefsel vorm waarin alle materie - hetsy die son,
die aarde, die maan of 'n komeet - in direkte proporsie tot hulle massa, 'n
duik ... nee, wat is 'n beter woord? ... 'n "kom" in daardie weefsel
vorm waarin ander planete en sterre as't ware in 'n sirkelgang begin val ...
amper soos die water wat uit jou bad uit loop. En vandaar: aantrekkingskrag. As
dit waar is, as dit waar is dat elke stukkie massa in die heelal, ongeag hoe
groot of klein, volgens hulle massa duike of komme in die tyd-ruimte-weefsel
maak en gevolglik aantrekkingskrag genereer, vra ek myself af: Hoe lyk die kom
wat 'n mens maak? En is dit hoekom mense, soos sterre en planete, om mekaar
begin wentel?
Newton was behep met die verstaan van
die heelal wat mens kan sien: planete, sterre, ensovoorts. Maar toe kom die
teenstem, die kwantumteorie ... dit wat tussen atome gebeur. Ironies genoeg, as
jy naby genoeg kyk, lyk 'n atoom nes die heelal, maar dis 'n ander gesprek. Wat
belangriker is, is dat atome nie net fundamenteel onkenbaar is nie, maar ook so
dêm onvoorspelbaar is. As jy nie na hulle kyk nie, dan gedra hulle hulle soos
golwe, maar die oomblik as jy na hulle kyk, hulle probeer meet, dan gedra hulle
hulle soos partikels ... en jammer, ek weet dis 'n anglisisme, maar in die
fisika is dit dikwels onvermydelik ... "partikels" ... konkrete
goedjies. En om dinge erger te maak, kan mens nie tegelyk 'n atoom se spoed en
posisie weet nie. Of jy weet waar hy is, of jy weet hoe vinnig hy beweeg, maar
nooit albei nie. In breë terme is dit wat Heisenberg in sy Onsekerheidsprinsiep
beskryf het. En dis die punt: Wanneer dit by die atoom kom, die boublok van
alles in die heelal, insluitend die mens, werk jy met 'n paradoks. Niks is seker
nie ... hy's daar en hy's nie daar nie. En as ons nou een ding weet, dan is dit
dat die mens nie van onsekerheid hou nie. Kyk maar na die winste van
versekeringsmaatskappye. Kwantumfisika wys dat die wêreld, die kosmos, alles,
deur onvoorspelbaarheid en toeval regeer word. Vir Einstein was dit
onaanvaarbaar: "God", het
hy vir Niels Bohr, voorstander van die kwantumfisika, gesê, "does not play dice with the universe".
Einstein het daarna sy lewe gewy aan die soeke na 'n Groot Teorie wat die chaos
en onvoorspelbaarheid van die kwantumfisika met die orde van Newton en sy eie
teorie van die heelal kon versoen. Ongelukkig is hy dood voor hy kon, wat
jammer is, want hy sou ons almal baie moeite bespaar het. En hier's die kern
van die probleem: Atome is so bleddie klein en abstrak, maar tog so dáár ... so
konkreet ... niks minder as 'n planeet of 'n ster nie. Om 'n idee te gee: Daar
is meer atome in 'n enkele glas water as wat daar glase water is in die riviere
en oseane en al die waters van die wêreld. Alles, alles in die heelal bestaan
uit atome, en tog is atome fundamenteel onkenbaar. Elke mens, ek, jy, is 'n
bondel paradoksale, onvoorspelbare atome wat deur die aantrekkingskrag tussen
hulle bymekaar bly, om uiteindelik uitmekaar te spat met die dag van die dood.
Gaaf, so gesê, so gedaan. Maar vir my is die vraag: Hoekom spat die atome
waaruit 'n mens gemaak is nie voor die dood uitmekaar nie? Wat hou hulle tot
die dood bymekaar? En as die atoom fundamenteel onkenbaar is, hoe kenbaar is
die mens? Terloops, toe Einstein vir Niels Bohr gesê het dat God nie met die
heelal dobbel nie, toe antwoord Bohr: "Moenie vir God sê wat hy mag en nie
mag doen nie." Goeie raad, nie net vir Einstein nie, maar waarskynlik vir
elke mens wat in 'n verhouding die ander een se wentelbaan probeer voorskryf en
hom verbeel dat hy werklik die ander een kan ken.
Dinge is selde soos wat hulle lyk. Baie
van die sterre wat jy sien, is nie meer daar nie. Dis net hulle lig wat jy
sien. Maar omdat hulle so ver van die aarde af is, neem daardie lig miljoene
jare om hier te kom, met die gevolg dat lank nadat daai ster alreeds gesterf
het, sien ons nog die lig wat nog steeds oor daardie biljoene kilometers na ons
toe reis. So, die vraag is: Bestaan 'n ster wat lankal gesterf het net omdat jy
sy lig nog kan sien? Is 'n ster sy lig, of is 'n ster die ding wat die lig
gemaak het? En mens sou dieselfde van 'n verhouding kon vra: Lewe die ster nog,
of sien jy net sy lig nadat hy lankal gesterf het? Met ander woorde: Niks is
seker nie. Dit hang af waar jy staan wanneer jy kyk. Iemand baie nader aan
daardie ster sou lankal gesien het hoe hy sterf, terwyl jy nog dink hy leef.
Om te dink is 'n gevaarlike ding,
tensy jy baie, baie diep dink. Oppervlakkige denke veroorsaak allerhande
probleme, soos die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, die Berlynse muur, die
Midde-Ooste, apartheid en die massamoorde van Afrika. En so kan ek oor die eeue
heen aangaan. G'n logiese mens, een wat dink, wil 'n oorlog hê nie - hetsy oor
'n stuk grond of vir olie, of in sy persoonlike verhoudings nie. Maar dis die
probleem met menswees: Ons dink nie net nie, ons voel. Ek lees onlangs 'n
verslag van 'n man wat in 'n voertuigongeluk was. Sy brein is beskadig in
presies daardie area van die brein wat emosies skep. Die gevolg was dat die
man, na hy van die ongeluk herstel het, hoegenaamd geen emosies gevoel het nie.
Hy kon praat, hy kon dink, hy was in alle opsigte normaal, behalwe dat hy geen
emosies ervaar het nie. Op daardie punt in die artikel het ek gedink: Hel, dit
kan dalk lekker, wees. Ja, jy voel nooit gelukkig nie, maar jy voel ook nie
ongelukkig nie. G'n uiterstes van emosie nie - amper soos die effek van 'n
sterk antidepressant. Maar toe lees ek verder. Mense op antidepressante voel
nog steeds, net nie op die uiterste nie, maar hierdie man het geen emosies
ervaar nie, en die gevolg daarvan was dat hy absoluut niks gedoen het nie. Hy't
net daar gesit. Tjoepstil. Die gevolgtrekking van die navorsing was dat
emosies, nie denke nie, die dryfveer van aksie is - dat die mens net iets doen
omdat hy iets voel. Al wat denke kan doen, is 'n beste poging aanwend om
daardie emosiegedrewe aksies in 'n vrugbare rigting te stuur. En dit is nie
maklik nie, want soos ek gesê het, as jy dink, moet jy diep dink. En dit verg
moeite en oefening en baie energie, meer as wat die meeste mense tot hulle
beskikking het.
Brandon Carter, die beroemde
teoretiese fisikus, het die wêreld daarop attent gemaak dat die rede waarom ons
die heelal sien wat ons sien, is omdat ons in daardie heelal ontstaan het. As
die heelal nie was soos hy was nie, sou ons nie hier wees om hom te sien soos
hy is nie. God was baie besig en het baie gedoen voor hy die mens geskape het.
Soos die Bybel sê: Ons was laaste ... op die sesde dag ... lank na hy lig en
donker, en die aarde en waters geskei het. In daardie skepping het ons
ontstaan, en daarom kan ons vanaf die aarde na daardie skepping kyk. Ons sien
wat ons sien omdat ons uit dit wat ons sien, ontstaan het. En so is dit in 'n
verhouding ook - jy sien wat jy sien omdat jy in daardie verhouding geword het wie
en wat jy is. Die komme wat twee mense in die weefsel van die kosmos maak, trek
hulle na mekaar. Die son het die aarde, die aarde het die son, die maan het die
aarde en die aarde die maan. Elkeen is homself, maar word ook bepaal deur die
ander wat om hom wentel. Die getye van ons oseane word, per slot van sake, deur
die maan bepaal. En as die aarde nie hier was nie, was die maan iewers anders.
So min as wat 'n planeet of ster aantrekkingskrag kan ontken, net so min kan ek
of jy. So min as wat ek, al wil ek hoe graag, die inkomende gety kan stop, net
so min kan ek keer wat tussen my en 'n ander gebeur, want as ek en 'n ander
eers om mekaar begin wentel, dan sal, soos tussen aarde en maan, gebeur wat
moet gebeur.
Die spoed van lig is een van die mees
paradoksale onveranderlikes van die kosmos. Lig beweeg teen net onder driehonderdduisend
kilometer per sekonde. Maar hier’s die probleem: As twee karre na mekaar toe
ry, die een teen eenhonderd kilometer per uur en die ander ook teen eenhonderd
kilometer per uur, dan is die spoed waarteen hulle mekaar nader, tweehonderd
kilometer per uur. Maar as twee voertuie elk teen die spoed van lig na mekaar
toe ry, dan is die spoed waarteen hulle mekaar nader nog steeds net onder
driehonderdduisend kilometer per sekonde ... nie seshonderdduisend nie. Dit
maak glad nie sin nie. Die rede, volgens Einstein, is dat niks, absoluut niks
in die heelal, vinniger as die spoed van lig kan beweeg nie. En as dit waar is
... en tot op hede is daar geen navorsing wat dit verkeerd kon bewys nie ... as
dit waar is, is daar, ten spyte van al die chaos en oënskynlike
onvoorspelbaarheid van die lewe wat ons in hierdie uithoekie van die heelal
beleef, 'n oorkoepelende en fundamentele orde. En miskien is dit wat ons bedoel
wanneer ons praat van God, en hoekom elke mens, ten spyte van konstante
teleurstelling en terugslag, aanhou soek na betekenis en sekerheid, want ons
voel in die atome waaruit ons gemaak is, hierdie groot wet: dat sekere dinge in
die heelal onveranderlik is. Ek het begin deur te vra: Wat is dit ... Wat is
dit wat die atome van 'n mens se lyf bymekaarhou tot die dood toe? Maar waaroor
ek die meeste wonder, is: Wat is dit wat veroorsaak dat hierdie, en nie daardie
mens nie, tot die ander aangetrokke voel, in die kom wat hulle in die weefsel
van tyd en ruimte maak, vasgevang word? En my antwoord is eenvoudig - beslis
nie wetenskaplik nie, en beslis so seker as die spoed van lig - liefde. Dis wat
alles bymekaar hou. Religie is so onwetenskaplik, maar elke religie op aarde
het tot die besef gekom: God is liefde. Liefde - alomteenwoordig soos die
aantrekkingskrag tussen alles in die heelal, so onkenbaar soos 'n atoom, en so
seker soos die spoed van lig.