REDUPLIKASIE
Die herhaling van 'n woord in
Afrikaans word heeldikwels gebruik.
Voorbeelde is:
aan-aan
baie-baie
eet-eet
gou-gou
kolle-kolle
net-net
nou-nou
sit-sit
speel-speel
spring-spring
wil-wil
Die verskynsel word deur taalkundiges
volle reduplikasie genoem. Daar is ook nog gedeeltelike reduplikasie. Dit is
die herhaling van slegs woorddele soos in skat-skatryk, brand-brandmaer,
gras-grasgroen. Volle reduplikasie vind mens wel in die tale van Europa, maar
op 'n baie beperkte skaal. Die reduplikasie-patroon kom uit die Ooste.
Waarskynlik is dié wyse van woordvorming ontleen aan Maleis. Maar verskeie
Oosterse tale het dié produktiewe prosedure om woorde te maak.
In teenstelling tot sy Europese
stamtale, veral Nederlands, is reduplikasie in Afrikaans hoogs produktief. Met
ander woorde, ons voorsate het 'n paar gevalle van reduplikasie aan ander tale
ontleen, en toe die patroon toegepas op ons ganse woordeskat.
Die reduplikasie woorde het soms 'n
heel voorspelbare betekenis. Gou-gou beteken byvoorbeeld wel “baie gou”. Party
woorde het 'n effens afwykende betekenis. Wil-wil beteken byvoorbeeld nie “baie
wil” nie, maar “effens wil”. Ander reduplikasie woorde het die teenoorgestelde
betekenis van die grondwoord soos byvoorbeeld nou-nou is beslis nie “dadelik”
nie. Dit het meer die betekenis van “netnou”.
No comments:
Post a Comment