IN DIE SWEET VAN JOU AANGESIG
Doen
met toewyding alles wat jou hand vind om te doen. – Prediker 9:10
DIE MENS SE ARBEID
‘n Groot deel van elke dag en ‘n
groot gedeelte van ‘n mens se lewe word deur die beoefening van jou beroep of werk in beslag geneem. Soos die
spreekwoorde sê: “Jy moet hand uit die mou steek en hand aan die ploeg slaan
want wie nie saai nie, sal nie maai nie en wie nie werk nie, sal nie eet nie
dus moet jy soos ‘n esel werk - want arbeid adel.“
Die mens behoort dus nie net te werk
nie, maar hy mag ook op ‘n werk aanspraak maak. Hy behoort te werk want hy is
geskape na die beeld van ‘n werkende God. God het die mens na sy beeld geskape
en daardeur aan die mens die gawes en vermoëns gegee om kwaliteit arbeid te
verrig. Om die mens die geleentheid om te werk te ontsê, is om hom die
geleentheid te ontneem om tot volle menswees te ontwikkel. Die moderne tegnologie
en ekonomie het egter wêreldwyd werkloosheid onvermydelik gemaak. Langtermyn
werkloosheid is nie net ondraaglik nie, dit is selfs immoreel en maak die lewe
soveel armer. Die Christen behoort daarom ‘n daadwerklike bydrae te lewer om
die grootste persentasie werkloosheid te help uitskakel.
Daar is vandag allerhande
arbeidsprobleme en arbeidsonrus. Vakbonde skryf voor wat mag en wat mag nie.
Die aantal werksure per dag is deur die jare drasties verminder terwyl verlof
en vakansiedae vermeerder word. Die vyfdagwerkweek is ingestel en die moderne
tegnologie het baie van die harde fisiese handewerk uitgeskakel. Die baas
gebruik die arbeid om die arbeider uit te buit en die arbeider gebruik sy
arbeid om die baas af te pers. Sommige werkers is ingestel op die minimum
aantal ure se werk met die maksimum betaling. God haat alle vorme van laksheid
en luiheid en werkskuheid.
Die Bybel begin waar God besig is met
Sy skeppingswerk in Genesis 1:1. Hy skep hemel en aarde en gee die aarde as
leef- en werkterrein vir die mens. Ook die mens is die produk van God se
arbeid. Na die Skepping sit God egter nie terug nie, maar Hy onderhou, versorg
en bestier sy ganse skepping dag na dag. Voor die sondeval het die mens ook ‘n
dagtaak gehad wat hy moes verrig. God het die mens in die Tuin van Eden gestel
om dit te bewerk en te bewaak. Dus volgens Genesis 2:15 is werk op sigself nie
die gevolg van die sondeval nie. Dis ‘n skeppingsopdrag van God om sy wêreld op
te pas en in stand te hou. Maar so baie mense ervaar hul werk as swaarkry, ‘n
blote plig, as swoeg en sweet. Hoekom is dit so? Voor die sondeval was die
arbeid godverheerlikend en mensverrykend, maar die sondeval versteur nie net
die mens se verhouding met God nie, maar ontlok ook God se vloek wat die aarde
en die arbeid tref en nou na die sondeval vertoon arbeid ‘n verslawende
karakter.
In Genesis 3:17-19 sê God vir die
mens dat, omdat jy gesondig het, is die aarde deur jou toedoen vervloek. Met
swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak. Net deur harde werk sal jy kan eet.
Nie ons werk nie, maar die swoeg en sweet, die moeite, die vrugteloosheid is
die straf op die sondeval. Die wyse Salomo het baie goed besef dat die arbeid
nie van God losgemaak kan word nie want in Psalm 127:1 en 2 sê hy:- “As die
Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou, ...”
Die wyse waarop die mens werk, word
bepaal deur sy verhouding met God. As iemand dus gedurig kla en ontevrede is en
geen vreugde in sy werk vind nie, dan moet hy weet dit is so omdat sy
verhouding met God nie reg is nie. As jy nie van werk kan verander nie,
verander dan jou gesindheid teenoor jou werk. Met Christus in ons midde word
die las lig. Met Christus in ons midde sien ons die arbeid en die probleme in
‘n ander lig. Probleme word uitdagings en ons arbeid word ‘n geleentheid. Praat
dus nie meer van probleme nie maar van uitdagings en noem u werk of beroep ‘n
geleentheid en dank God elke dag daarvoor.
Daar is ‘n groot verskil in die
werksbenadering tussen die gelowige en die ongelowige. Vir die goddelose gaan
dit nie daarom om God in die werk te verheerlik nie. Daarom die verval oral in
die wêreld. Die Christen moet wel net so baie sweet soos sy ongelowige kollega
maar die Christen sien arbeid in ‘n ander lig en met ‘n ander doel.
Die doel verskil want die gelowige
wil God verheerlik terwyl die ongelowige
homself dien.
Die motief verskil want die gelowige
werk nougeset en produktief terwyl die ongelowige nie omgee nie.
Die ingesteldheid verskil want die
gelowige werk gelukkig en blymoedig terwyl die ongelowige klaend sy werk doen.
DIE RUSDAG
Maar die mens het behoefte aan rus.
God het die mens so geskape. Die mens is nie ‘n masjien nie. Ons moet op
gereelde tye rus om ons kragte te herwin. Daarom het God dit so bestier dat die
aarde om sy eie as wentel teen 1 670 kilometer per uur. Hierdie beweging
veroorsaak dag en nag, sodat ons kan werk in die dag en rus in die nag. Hy het
ook die rusdag ingestel om ritme in ons lewe te bring en ons daarvan te bewaar
om slawe van ons arbeid te word. Ook in die natuur het God voorsiening gemaak
vir rus. Daarom het God dit so bestier dat die aarde se poolas oorhel met ‘n
hoek van 23º 27' 08" op sy baanvlak om die son. Hierdie beweging
veroorsaak die verskillende seisoene, sodat die mens kan plant en saai en oes
en die diereryk en planteryk kan groei en paar en rus.
Maar helaas die mens het weereens in
hierdie meesterplan probeer ingryp en in hierdie moderne wêreld ver van God se
plan verwyderd geraak. Die industriële wêreld ken nie meer die verskil tussen
dag en nag nie. Die masjiene kom nooit tot stilstand nie. Die stad slaap nooit
nie. In die moderne wêreld is die een
dag soos die ander. Besighede doen sake “24/7 twenty four seven” soos dit
genoem word, vier en twintig uur per dag, sewe dae per week 365 dae per jaar. Produksie en prestasie het die sleutelwoorde
tot sukses geword. Die sabbat word nie meer onderhou nie. Daarom is daar vandag
so baie spanning en stres en vermoeidheid want niemand kom tot rus nie, ons het
immers verleer om te rus. Dis eintlik ironies dat in hierdie moderne wêreld met
al sy elektroniese hulpmiddels soos rekenaars, selfone en masjiene wat die
fisieke werk doen, die mens al minder tyd vind om te rus.
Op die sewende dag was God reeds
klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.
Hy het die sewende dag as gereelde rusdag ingestel en dit geheilig, want op
daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. (Genesis
2:2 - 3). Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens
gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.” (Markus 2:27). “[...] Ook op
hulle nageslag lê die verbond ‘n blywende verpligting om die sabbat te
onderhou.” (Eksodus 31:16)
DIE SPORTAFGOD
Sport en ontspanning het ‘n kenmerk
van die moderne lewe geword. Sport het ‘n beroep geword waarin firmas miljoene
belê, sportmanne verdien miljoene per jaar vir ‘n paar dae se vermaak. Rus is
nie dieselfde as sport en ontspanning en vermaak nie. Rus is inkeer tot
jouself, vind jouself, herstel jou innerlike balans, genees jou uitgerafelde
siel. Vermoeidheid ontstaan dikwels net in ons denke. Ons gees is moeg voordat
ons ledemate moeg is. Ons sê so maklik na ‘n dag op kantoor “Ek is doodmoeg”,
maar bestee dan die hele aand aan die een of ander vorm van vermaak.
“Neem My juk op julle en leer van My
... en julle sal rus vind vir julle siele.” (Mattheus 11:29)
“My siel, keer terug tot jou rus;
want die Here het goed aan jou gedoen.” (Psalm 116:7)
“Laat die vrede van God ... in julle
harte heers.” (Kolossense 3:15)
“Na waters waar rus is lei Hy my
heen.” (Psalm 23)
ARMOEDE EN RYKDOM
God het ook die armes gemaak en dit
is Gods wil dat hulle in hierdie toestand is. God vergeet nie die armes nie en
gee net soveel ag op armes as op rykes. God hoor die geroep van die armes en
verag hulle gebede nie. Hy beskerm hulle, verlos hulle, voorsien in hul
behoeftes en rig hulle op. Maar, God stuur ook die armoede as straf vir die
gierigaard en hom wat die arme benadeel het. (Job 34:19; Spreuke 22:2; 1 Samuel
2:7; Job 1:21) Armoede ontstaan ook dikwels uit luiheid, dobbelary, drank en
dwelms, ontug, slegte vriende, spandabelrigheid en gierigheid.
Jesus het gesê: “ ‘n Mens leef nie
net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Mattheus
4:4)
‘n Goeie naam is meer werd as groot
rykdom. (Spreuke 22:1)
Die loon van nederigheid is rykdom.
(Spreuke 22:4)
Gee my nie armoede of rykdom nie.
(Spreuke 30:8)
Ek sal jou gee, ... die verborge
rykdom. (Jesaja 45:3)
No comments:
Post a Comment