Sunday, 21 February 2016


RUIMTESKIP AARDE


Die skepping is nie tydgebonde nie. Die skepping is tydloos. Die skepping duur voort van ewigheid tot ewigheid. Die heelal bestaan in ruimte en tyd. Die ewigheid is nie in tyd te meet nie. In die mens se onvermoë om die begrippe tyd, ewigheid en ruimte te verstaan, te deurgrond en vas te pen het hy deur die eeue al baie pogings aangewend om tyd tot ‘n definieerbare begrip te verwerk. Van die vroegste tye al is hemelliggame ingespan om tyd aan te dui en nog steeds is dit die enigste betroubare bron om tyd te meet met al die mensgemaakte onderverdelings om tyd tot kleiner verteerbare eenhede te verwerk.

‘n Kalender is ‘n poging van die mens om ‘n stelsel vir tydsverdeling daar te stel. Die huidige Christelike kalender word die Gregoriaanse kalender genoem. Een jaar op hierdie kalender is gemiddeld slegs 26 sekondes langer as een sonjaar. Sedert 1582 bepaal die Gregoriaanse kalender dat elke vierde jaar ‘n skrikkeljaar (366 dae) sal wees, behalwe eeu-jare wat nie deelbaar deur 400 is nie. Dus was 1700, 1800 en 1900 nie skrikkeljare nie, maar 1600 en 2000 was wel skrikkeljare.

Die Aarde is die derde in die ry van die planete vanaf die son op ‘n gemiddelde afstand van 149 597 870 kilometer. Sy poolas hel oor met ‘n hoek van 23º 27' 08" op die baanvlak en soos die planeet draai, lyk dit asof alles aan die hemel langs sirkelboë styg en daal. Hierdie skuins getilde hemelliggaam, planeet Aarde, is ook nie heeltemal rond nie maar afgeplat by die pole en beweeg met ‘n samegestelde beweging van drie maniere voort deur die heelal teen duiselingwekkende snelhede.

Die aarde wentel om sy eie as teen 0,4638 kilometer per sekonde. Hierdie beweging veroorsaak dag en nag.

Die aarde wentel om die son teen 29,8 kilometer per sekonde. Hierdie beweging veroorsaak die verskillende seisoene.

Die aarde en son as deel van die sonnestelsel roteer ook saam met die melkwegstelsel. Ons sonnestelsel is deel van die Melkweg, ‘n melkwegstelsel, waaromheen dit een keer elke 200 miljoen jaar wentel, teen ‘n snelheid van 250 kilometer per sekonde (900 000 km per uur).

As hierdie gegewens jou nie ‘n nuwe betekenis aan die spreekwoord “Met Jan Tuisbly se karretjie ry” laat heg nie, verduidelik ek graag verder. Al bly jy ook elke dag net daar voor jou televisiestel sit, dan lê jy jaarliks 939 772 800 kilometer deur die ruimte af sonder dat jy dit agterkom. Dan draai jy nog daagliks ook 32 790 kilometer ver teen 1 360 kilometer per uur al in die rondte, dis nou te sê as jy in Kaapstad woon. Op die ewenaar is dit 40 075 kilometer teen 1 670 kilometer per uur! Om alles te kroon roteer jy nog een keer elke 200 miljoen jaar saam met die hele melkwegstelsel teen ‘n snelheid van 250 kilometer per sekonde. Hierdie derde beweging kan ons maar buite rekening laat, want niemand is lank genoeg hier om dit agter te kom nie. Dus, as jou kop nou nog nie draai nie probeer die volgende statistiek absorbeer.

Die aarde se maksimum deursnee by die ewenaar is 12 756,274 kilometer en die omtrek by die ewenaar is 40 075,02 kilometer en die totale oppervlak van die aardbol is 510 065 600 km². Die son se deursnee is egter meer as honderd keer groter naamlik 1 392 000 kilometer.  Die aarde draai van wes na oos teen 15º per uur, sodat die aardbol in 24 tydsones verdeel word. Omdat die aarde van wes na oos draai, lyk dit vir ons asof die son in die ooste opkom en in die weste sak. Op die middaguur wanneer die son loodreg bo ons is, wys die skaduwee na die pool. Sonwysers bestaan al vanaf so vroeg as ongeveer 2 000 vC, alhoewel dit aan die begin slegs ‘n regop stok in die grond was. Die vroegste optekening van ‘n sonwyser dateer uit die jaar 741 vC.  

Die aarde neem 23 uur 56 minute en 4,0996 sekondes om eenkeer om sy draai-as te draai en 365 dae 6 uur 9 minute en 9,5 sekondes om sy wentelbaan om die son te voltooi. Dit is die jaarbaan volgens die sterrejaar. Die wentelbaan volgens die jaargetye, die sogenaamde tropiese jaar, neem 365 dae 5 uur 48 minute en 46 sekondes. ‘n Jaar is dus ongeveer 365¼ dag wat beteken dat elke vierde jaar ‘n ekstra dag ingevoeg moet word. Hieruit blyk dit duidelik dat die saamstel van ‘n kalender ‘n redelike tameletjie was.


No comments:

Post a Comment