TAALSPESERYE
Mark Twain het gesê:- Die verskil tussen die regte woord en die
naasregte woord is soos die verskil tussen weerlig en ‘n vuurvliegie.
Dikwels is die verskil tussen ‘n
heerlike dis en ‘n smaaklike dis, net die byvoeging van kruie en speserye. So
is dit ook met ‘n taal. Die verskil tussen gewone Afrikaans en keurige
Afrikaans is die taalspeserye, (nie kruie nie want dan kry ons miskien gekruide
taal), die segswyses, die uitdrukkings, spreekwoorde en die idiome. ‘n Geslag
of twee gelede het ons voorouers nog baie spreekwoorde gebruik in hulle
alledaagse kommunikasie, ook kru uitdrukkings maar in teenstelling met vandag,
nie ter wille van die kruheid nie maar ter wille van die beeldspraak. Baie van
die idiome het hul ontstaan in die landelike bedrywighede gehad maar wat veral
sterk na vore kom in hul taalgebruik is hul humor. Vandag se kinders gebruik
net nie meer ‘n idioomryke taal nie, hul gebruik liewer Engelse woorde en
uitdrukkings om iets te beklemtoon of hul beeldspraak te versterk.
Die volgende woorde, uitdrukkings en
segswyses is baie jare gelede, dikwels deur my moeder gebruik.
Aapstuipe. = woedend kwaad.
Armmansbaadjie. = die son.
Hy het as op sy tone. = sy gulp is
oop.
Sy bek hang. = kwaad of
teleurgesteld.
Dikbek. = kwaad.
Nie op sy bek geval nie. = gevat.
Bloed kruip waar dit nie kan loop
nie. = vir familie gee ‘n mens meer om as vir ander.
My bloed kook. = woedend.
Jou kop op ‘n blok sit. = seker van
‘n saak.
Dit nie breed hê nie. = behoeftig.
Wie se brood mens eet, dié se woord
mens spreek. = afhanklik van iemand.
Jou brood uit jou mond neem. = alles
verloor.
Stille waters diepe grond, onder
draai die duiwel rond. = stil mense bedink ook onheilighede.
Dag in en dag uit. = aanhoudend.
‘n Dak oor jou kop hê. = ‘n blyplek hê.
Daar dik in sit. = ryk.
Geen draad aan die lyf hê nie. = geen
klere.
By die Kaap gaan draai. = omslagtig
vertel.
Vir iemand jou voordeur wys. = huis
belet.
Nie oor my drumpel kom nie. =
onwelkom.
Gee die duiwel wat hom toekom. =
billik wees.
Dit steek my dwars in die krop. = hou
niks daarvan nie.
Jou ouma vir ‘n eendvoël aansien. =
slae kry.
Fonteintjie ek sal nooit weer uit jou
drink nie. = moenie dink jy sal iemand se hulp nie weer nodig kry nie.
Ganskos. = groente grof sny.
Sy gat aan my afsmeer. = nie aan my
steur nie.
Met jou gat in die botter val. =
geluk.
Met die Bybel onder die arm en die
duiwel in die gat. = skynheilig.
Sy gat is dik. = kwaad.
n Hak aan jou gat sit. = gedurig
deure oop los.
Sy gat lek. = iemand soebat, smeek.
Van die naald aan die gat. = nuwe
klere dadelik aantrek.
Nie ‘n naald (nael) hê om sy gat mee
te krap nie. = brandarm.
Jou gat sien. = misluk.
Gat uitleen. = te goedhartig.
Tweegat jakkals. = huigelaar.
Gat jeuk. = brand om iets te doen.
Deur jou gat trek. = verniel.
Aan my gat karring. = neul.
Gat toesteek. = iemand onderkruip.
Gat wip. = opruk.
Geld groei nie op my rug nie. = is
nie ryk nie.
Hulle spoeg gif teen mekaar. = haat
mekaar.
Ouer as gister. = ervare wees.
Die gort is gaar. = moeilikheid
begin.
Witgepleisterde graf. = skynheilig.
Grys voor sy tyd. = vroegryp kind.
Hare uit jou kop trek. = spyt.
So slim soos die houtjie van die
galg. = baie slim
Lyk of die honde sy kos afgeneem het.
= verleë.
Husse met lang ore. = dit gaan jou
nie aan nie.
Katpis. = flou tee.
Jakkals prys sy eie stert. = spog.
Jan Rap en sy maat. = gepeupel.
Jannie se baadjie aan hê. = jaloers.
Jan Sparriewarrie. = Jan spaar die
waarheid, lieg
Orige jukskei. = nuttelose persoon.
Kaal uittrek. = hofsaak teen jou wen.
Kaatjie Kekkelbek. = babbelbek.
Kaatjie van die baan. = voorbok.
Kasarm. = groot huis.
Die kat in die donker knyp. = skelm
vry.
Dit laat my keel toetrek. = beangs
word.
Soos ‘n ketter vloek. = baie erg
vloek.
Kontant met die mond. = vrypostig.
Kooi. = bed.
Kop kam. = hare kam.
Voor die kop gooi. = verwyt.
Kop in een mus. = saam knoei.
Voor die kop maar nie in die krop
sien nie. = skyn bedrieg.
Vir kwaadgeld rondloop. = kattekwaad
doen.
Leviete voorlees. = berispe.
Maaifoerie. = vabond.
Merrie. = vrylustige meisie.
Moerskont. = vabond.
Jou mond uitspoel oor iets. = te veel
sê oor iets wat jou nie aangaan nie.
Spaar vir die mond, is goed vir die
kat en die hond. = as jy te min eet, gaan die oorskiet kos tog maar vir die
diere.
Sy oë is groter as sy maag. = wil
meer hê as wat hy kan eet.
Deur ‘n naald trek. = baie netjies.
Deur jou nek betaal. = te veel
betaal.
Oopspalk. = wyd oopmaak.
Oorlams. = voor op die wa.
Opskeploer. = ongenooid op etenstyd
opdaag.
Ore uitleen. = te veel na ander
luister.
Papier is geduldig. = iets lyk beter
in druk.
As die perde horings kry. = nooit.
Plas en plooi. = fyn beplan. Geld afknyp.
Dans na sy pype. = alles doen wat hy
beveel.
Siel uittrek. = terg.
Skaapwagtersnye. = dik snye brood.
Snotklap. = harde klap.
Snotkoker. = neus.
Jou soettande uittrek. = nie meer
soetgoed kry nie.
Son in die weste, luiaard op sy
beste. = lui persoon begin laat werk.
Jou Sondag is langer as jou Maandag.
= onderrok hang uit.
In ‘n stal gebore. = deure ooplos.
Nie met ‘n tang aan hom vat nie. =
vuil.
Timmerasie. = bouval.
Net vel en been wees. = brandmaer.
Hoër vlieg as wat jou vlerke lank is.
= bokant jou vermoë leef.
Badskamer. = badkamer.
Voorhuis. = sitkamer.
Geld in die water gooi. = vermors.
Vir wind en weer rondloop. = kinders
wat alleen grootword.
No comments:
Post a Comment