Friday, 26 February 2016


WYN WETENSWAARDIGHEDE

Op 22 Julie 1655, drie jaar na sy aankoms aan die Kaap, ontvang Jan van Riebeeck die tweede besending wingerdstokkies wat hy in die Kompanjietuin aanplant en gedurende 1657 pluk hy reeds die eerste druiwe. Op 2 Februarie 1659 maak hy die eerste wyn van Kaapse druiwe. Die druiwe van drie jong stokke van twee jaar oud is nie getrap nie maar sommer met die hand gepars. Hiervan kry hy twaalf mengelen mos. Die eerste wynproduksie was dus ‘n skrale agtien bottels of drie gelling wyn oftewel 13,6 liter. Dit kan  seker beskou word as die beskeie ontstaan van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Is dit omdat dit ‘n Sondag was, waarop die eerste druiwe gepars is, dat hy sy dagboekinskrywing begin met Vandag is, Prys die Heer, ...

Heeden is, Gode loff, van de Caepse druijven d’eerste mael wijn gepaerst ende van de nieuwe most soo versch uijt de cuijp de proef genomen synde meest muscadel ende andere witte ronde druyfen van seer goede geur ende smaeck weesende de Spaense druyfen noch gants onrijp daer verscheyden weynstocken mede fray ende redelyck vol van hangen ende te hoopen staet nog treffelycq geven sullen gelycq deese druijven van 3 kleyne jonge stocken van 2 jaeren hier geweest welomtrent 12 mengelen most afgecoomen is [...]   

Hy skryf dat die hanepoot of Spaense druyfen nog nie ryp is nie en dat hy sy eerste wyn van die druiwesoorte muskadel en steen gemaak het van stokke wat hy van Frankryk en Spanje ingevoer het.  Later word groendruif, fransdruif en frontignac ook genoem.  Later sou hy ook wingerdstokke op sy plaas Boschheuvel (nou Bishopscourt) aanplant. Voorspoedig het dit egter nie gegaan nie, want 1 200 gewortelde stokke wat hy in Augustus 1658 daar aanplant word ‘n paar maande later deur die Khoi vernietig. Vier jaar later is byna die hele oes weer deur ongekende swerms mossies opgevreet.   

Dit was egter eers nadat Simon van der Stel in 1679 en die Franse Hugenote in 1688 in die Kaap aangekom het dat die wynbedryf begin floreer het. Die stigter van Constantia was Kommandeur (later Goewerneur) Simon van der Stel, wat op 13 Julie 1685 ‘n plaas van 891 morgen 380 roeden en 5 voeten Rynlandsche Maat van die Hoë Kommissaris, Baron Hendrik Adriaan van Rheede tot Drakenstein ontvang. Rijklof van Goens, Raadslid van Indië en voormalige Goewerneur van Ceylon het egter reeds op 29 Maart 1685 by Here XVII aanbeveel dat die plaas aan hom toegeken word. Uit erkentlikheid noem hy die plaas toe na Van Goens se dogter, Constantia. Hy begin met die aanplant van akkerbome en honderdduisende wingerdstokke asook die bou van die eerste Kaaps-Hollandse herehuis, voltooi in 1692. Hy sou die plaas tot ‘n sieraad uitbou. Na sy dood is dit in 1716 onderverdeel in Groot Constantia, Klein Constantia (ook genoem Hoop op Constantia) en Bergvliet. Vanaf 1718 boer die Colijns op Klein Constantia en produseer ‘n kwaliteit Constantiawyn, gesog onder die amptenare van die VOC in die Kasteel en Nederland.

Maar die eintlike ontwikkelaar van Groot Constantia was Hendrik Cloete wat dit in 1778 gekoop het. Die huis en wingerd was verwaarloos toe hy dit gekoop het en het aansienlike opknapwerk benodig. Hy het die huis vergroot en verbeter, nuwe wynkelders aangebou, die wingerde uitgebrei met die aanplant van 13 000 tot 14 000 wingerdstokke en alles moontlik gedoen om die produksie en bemarking van die wêreldberoemde Constantia wyne te verbeter.

Sy derde oudste seun, ook Hendrik, neem van meet af die bestuur van die plaas oor en Constantia se wyn word weldra  wêreldberoemd. Besoekers, plaaslik sowel as van oorsee, is gulhartig op Groot Constantia ontvang en Hendrik Cloete word weldra die bekendste boer in die Kolonie. Sy gesogte wyne behaal buitengewone hoë pryse en hy word een van die vermoëndste boere aan die Kaap. Napoleon het glo in 1821 op sy sterfbed om Constantiawyn gevra. Dit is nie bekend of die versoek toegestaan is nie.

EIENAARS VAN GROOT CONSTANTIA [1]

EIENAAR                               TYDPERK                                         JARE      KOOPPRYS

Simon van der Stel                 13 07 1685 - 13 11 1716 [2]              31           Toegeken
Oloff Bergh en sy erfgename 13 11 1716 - 09 08 1734                   18           ƒ   8 000
Carl Georg Wieser                 09 08 1734 - 08 06 1759                   25           ƒ 20 800
Jacobus van der Spuy           08 06 1759 - 15 01 1778                   19           ƒ 45 000
Jan Serrurier                         15 01 1778 - 11 12 1778                     1            ƒ 53 000
Hendrik Cloete                      11 12 1778 - 12 11 1799                   21           ƒ 60 000 [3]
Hendrik Cloete                      12 11 1799 - 29 09 1818                   19           Geërf vir ƒ 100 000
Jacob Pieter Cloete               03 12 1824 - 02 12 1875                   57           Geërf vir ƒ 240 000 [4]
Hendrik Cloete                                                                                10           Geërf vir £5 000 [5]
Regeringsplaas                     19 10 1885 - datum                         131            £5 275  

[1] Constantia was oorspronklik 891 morgen 380 roeden en 5 voet Rhynlandsche Maat, maar is na Simon van der Stel se dood onderverdeel in drie plase nl. Groot Constantia, met die huis, 224 morg, Klein Constantia 184 morg en Bergvliet 475 morg. Laasgenoemde twee is op 13 Augustus 1716 aan Pieter de Meyer verkoop.  
[2] Hy is reeds op 24 Junie 1712 oorlede.
[3] Hy betaal ook ƒ 30 000 vir losgoed en sestien slawe. Altesaam dus 90 000 gulden. Dan bestee hy ook nog ‘n verdere ƒ 20 000 aan herstelwerk en verbeteringe.
[4] Koopprys sluit ook die plaas Steenbrassems Rivier asook die reg tot die Strand Fontein in.
[5] Kon plaas uit boedel koop vir £5 000 en die bestaande verband oorneem. Was egter insolvent.

In 1795 toe die Hollanders na 140 jaar se wynverbouing aan die Kaap, aan die Engelse Regering oorgee, was die wynboustatistiek as volg:-

Aantal Wingerdstokke                                                             Wynproduksie
Kaapstad en distrik                        898 030                               939½ leggers
Stellenbosch en distrik                9 074 380                            5 332    leggers
Totaal                                          9 972 410                            6 271½ leggers (4 333 642 liters)

[Kaapstad Argiefbewaarplek BO 47 pp. 74 – 75]

‘n Honderd jaar later teen die einde van die negentiende eeu was daar reeds 100 miljoen wingerdstokke in die Kolonie. In 2004 het Suid-Afrika 317 miljoen stokke gehad wat 1 314 364 ton druiwe lewer waarvan 1 018 500 000 liters wyn gemaak word.

Suid-Afrika het 110 200 hektaar grond onder wyndruiwe (45% rooidruiwe en 55% witdruiwe).  Sowat 350 000 mense werk direk en indirek in die wynbedryf en dit sluit ook in die 48 350 mense in die wyntoerismebedryf. Suid-Afrika produseer 3,1% van die wêreld se wyn en is die agtste grootste wynproduserende land.  Sowat 30% van die jaarlikse wynproduksie word uitgevoer.

Jaar                 Wyn Uitgevoer
1991                  23 000 000 liter
2001                177 000 000 liter
2003                237 300 000 liter

Drankmisbruik was, sedert die stigting van die nedersetting aan die Kaap, een van die grootste euwels. Drinkplekke was volop en wyn goedkoop. Almal aan die Kaap het handel gedryf, selfs die predikant was ‘n wynhandelaar.

Even the Predikant engaged in trade, and paid more attention to his farm than to his church.  Once, when preaching at the Cape, he heard heavy carts rumbling down the streets, and paused in his sermon to ask the clerk: “Prithee, my friend, look out and see whether that is my wine which is going by.”
           
[Laidler, P.W. A Tavern of the Ocean. Cape Town : Maskew Miller Limited : 1926, p. 51]

Hierdie aanhaling kom uit die hoofstuk oor die Van der Stels en alhoewel die predikant se naam nie genoem word nie, weet ons dit was ds. Petrus Kalden, predikant aan die Kaap vanaf 1695 tot 1707, waarna hy saam met Willem Adriaan van der Stel verban is.

Adam Tas se dagboek bevat 'n paar kostelike inskrywings van wyngebruik aan die Kaap in die jare 1705 en 1706. Sy taalgebruik en humorsin is iets besonders.

Hy was beslis 'n geestige mens en het duidelik humor aan die dag gelê met sy beskrywing van alledaagse gebeurtenisse. Die sieketrooster, destyds nog aangespreek as dominee, noem hy krankebedroever.

[...] Ook was 'er de krankebedroever Lussing, die vol zoeten wijns was. Mr. Paran was wacker bezig met den wijnroemer om te laaten gaan, zoodat ik wel haast vernam dat die vrund met goed regt voor een breeder van de natte gemeente mag werden te boek geslagen. Na aldaar een wijl geweest te zijn ben ik na huijs geslentert; [...]

Tas was ook 'n drinkebroer van die natgemeente. 'n Bra vrolike partytjie by sy buurman het blykbaar tot in die laatnag aangehou en toe hy uiteindelik vol soet wyn was, het hy en sy suster huistoe geloop. Sy perd, waarmee hy vroeër die dag vanaf die Tygerberg op die buurman se partytjie mee aangekom het, sonder dat hy eers huistoe was, het hy blykbaar net daar gelos. Hy skryf dat dit vir horn gevoel het of hy so reguit huistoe geloop het, asof hy met 'n tou getrek word. Maar toe hy by die huis tot rus kom, toe kon hy voel dat vader Bacchus met horn praat.

[...] voor de rest waaren we met elkanderen braaf vrolijk, 'twelk tot in de nagt duurde. Ik ben eijndelijk vol en zoet met suster na huijs geslentert en zoo rechtstreeks t'huijs gegaan off ik met een leijn getrocken wierde, maar toen ik thuijs in stilstand geraakte, bevond ik welhaast dat ik 't niet van hooren zeggen hadde, maar dat ik paaij Bachus zelfs hadde gesprooken.

Die volgende oggend skryf hy in sy dagboek dat hy glad nie goed gevoel het nie en dat hy so ietwat van stryk af was.

[...] Ik bevond mij desen morgen gansch niet wel en was zoo vrij wat van mijn stuk.

Toe sy buurman se blanke kneg, Arij, oorlede is, stuur hy kos en wyn oor vir die begrafnis. Sy kneg, Jacob, woon die begrafnis by en kom vertel die aand dat daar heelwat mense was, en dat daar kos oorgebly het maar dat die wyn opgeraak het. Daarmee was Tas tevrede, Arij het 'n behoorlike begrafnis gehad.

[...] Tegens de middag hebbe ik een ½ aam daar in 5 emmers wijn na Stellenbosch gesonden, alsmeede een Caabse ham, 3 bouten gebraden vleesch van een vette hamel en 3 brooden; daar konnen ze haar vrolijk mede maaken. Onze knegt Jacob s'avonds van de begraffenis weeder t' huijs komende, zijde mij datter vrij wat volk was geweest en datter nog een gedeelte van de Cost was overgeschoten, de wijn was uijtgeraakt, zodat Arij nog met goed fatsoen is begraven.

Joan van Hoorn, op besoek aan die Kaap, skryf op 16 Maart 1710 aan sy skoonvader Abraham van Riebeeck, Goewerneur-generaal in Batavia:-

Maar d’ Hr Gouverneur van Assenburgh heeft een aardig spreekwoord:- ‘ ‘t is of de Caab van vretten en suypen aan malkander hangt’ ... want alle thuynen zijn wijngaarden, en in of bij of voor ‘t meeste alle pers daar wijn uyt [...]
Vertaling
Maar die Heer Goewerneur van Assenburgh het ‘n eienaardige spreekwoord:-  ‘Dit is asof die Kaap van vreet en suip aan mekaar gesit is’ ... want alle tuine het wingerd en min of meer die meeste inwoners pars hul eie wyn.

[Bosman, D.B. Briewe van Johanna Maria van Riebeeck en ander Riebeeckiana.  Amsterdam : 1952]

Al die wyne was ook nie van goeie gehalte nie, baie omtrent ondrinkbaar.  Die Engelse regering besluit dus in 1811 om gehaltebeheer toe te pas met die aanstelling van ‘n “wynproeër”.

The office of Wine Taster was created in 1811, and instructions issued for the holder of the office in 1812. He was to keep a weekly list of all wine brought into Cape Town, and to examine all wine that was proposed to export, and refuse the certificate for exportation if it was unsuitable, that is if it had not age, strength and goodness. It was a rule that he should not “taste” before breakfast or after 3 p.m. Everything possible was done to improve quality and increase quantity of wine up to 1835, but by that date the trade was in a state of rapid decline, further to be hastened by the emancipation of the slaves. 

[Laidler, P.W. The Growth and Government of Cape Town. Cape Town : Unie-Volkspers Beperk : 1939, p. 221]

Hierdie pos is in April 1826 afgeskaf. Teen ongeveer 1835 was daar meer as 100 drinkplekke in Kaapstad en ‘n bottel wyn is vir drie pennies verkoop!

Die Bybel bevat baie vermanings oor die gebruik van drank maar ek kon darem ook een plek vind waar die Bybel voorstel dat jy drank aan jou arm en mismoedige vriend moet gee om hom op te beur. (Die ou Bybelvertaling lees:- “Gee wyn aan die wat bitter bedroef is“.)

Gee drank aan dié wat besig is om onder te gaan,
laat dié wat swaar ly, drink;
as so ‘n mens drink, vergeet hy van sy armoede
en dink hy nie meer aan sy moeilikheid nie.
Spreuke 31 : 6 – 7

Maar bewaar jou siel as jy mengeldrankies vir jou vriend, of is dit miskien vriendin, aanmaak wat haar so dronk maak dat sy ontklee.

Ellende wag vir hom wat,
   toe hy vir ‘n ander drank gegee het,
dit met gif gemeng het
en hom dronk gemaak het
om na sy kaal geslagsdele
    te kan kyk.
Jy sal self met skande
    in plaas van met eer oorlaai word,
jy sal self dronk word en
   jou ontbloot!
Habakuk 2 : 15 – 16

Ook William Shakespeare het teen drank gewaarsku:-

            O God! That men should put an enemy in their mouth to steal away their brains.

N. P. van Wyk Louw het ook later besef dat ‘n denkbeeldige glasie wyn miskien beter is om te drink.

            Miskien sal ek die wingerd prys
            en nooit meer van hom drink
            en net in ‘n verbeelde glas
            die koel gedagte skink.

Die Afrikaanse digter A. G. Visser probeer spottenderwys die skuld van drankmisbruik op die skouers van Noag pak met sy gediggie “Nat en Sap”.

            Toe Noag strand teen Ararat,
                        Die Ark begin in puin raak,
            Toe sê hy: “Aarde, maar dis nat!
                        Nou kan ‘n mens weer tuin maak!

            Het ek nie met die Ark geswoeg,
                        Was ons ook in die pekel.
            Aan water het ek nou genoeg ...
                        ‘n Lewenslange hekel.

            Kom, Sem en Gammie, maak nou gou
                        Vir Pa mooi reguit slootjies;
            En Jaaf, my kind, kom plant jy nou
                        Vir Pa die wingerdlootjies.”

            Die kromhout groei, en Noag skink
                        Sy sap ‘n bietjie later:
            Daarin is sedert meer verdrink
                        As in die vloed se water!

Ook die Engelse digter G. K. Chesterton het met Noag se drinkgewoontes gespot.

            And Noah he often said to his wife when he sat down to dine,
            I don’t care where the water goes if it doesn’t get into the wine.

In A. G. Visser se gedig Gaudeamus igitur vertel hy ons dat die wynstok groei waar daar vreugde is.

            Die wynstok groei waar vreugde woon
                        In songeseënde lande;

            Wyn wat die mensehart verheug
            En werk herskep in lewensvreug.

Lank voor die papsak sy verskyning gemaak het, is wyn in ander mates soos anker, halfaampie, legger, pond, pijpe en gelling verkoop. Wyn is natuurlik ook in glasbottels verkoop en ses bottels was ‘n gelling. ‘n Gelling kannetjie het dan ook later as ‘n sesmankan bekend gestaan.        

Verskillende mate en gewigte is aan die Kaap gebruik en dit was nie altyd duidelik wat gebruik is nie, byvoorbeeld Rynlandse, Amsterdamse of Engelse mate. Byvoorbeeld ‘n legger, kon enigiets wees van 563 liter tot 728 liter, volgens die verskillende bronne.

Sir John Barrow skryf in 1802:-

This wine sells at the Cape for 70 to 80 rix dollars [₤16] the half-aum, a cask which ought to contain 20 gallons, [...]. The pipe is called a legger and contains eight half aums or 160 gallons, [...].

Die Engelse Goewerneur Sir John Francis Cradock het die volgende proklamasie uitgevaardig:-

After January 1, 1813, all wines are to be shipped in pipes of 100 gallons each, half pipes and quarter casks.

Volgens Michiel van Breda se dagboek lewer hy in 1821 nog wyn in leggers, maar in 1826 lewer hy sy wyn in pijpe met ‘n omsetting na gellings daarnaas.

80⅔ Leggers wijn aan Herman @ 55 Rds. per legger.           [30 09 1821]
8 pijpe wijn – 913 gallons [6 legger] @ 50 Rds. per legger aan Berrick.
Dito. 19 pijpe – 1128 gallons [7,42 legger]
                          2041 @ 50 Rds. per legger = Rds. 671 -  - .  [26 06 1826]  


‘n Pijp was ‘n lang, smal wyn- of olievat van ongeveer 105 gelling of 126 gelling wyn.

Ou verklarende Engelse woordeboeke gee die volgende betekenisse vir pipe:-

pipe, a wine measure – two hogsheads, or 105 imperial gallons, or 126 wine-gallons.
pipe, a cask containing two hogsheads.
hogshead, a cask containing 52½ imperial gallons, or 63 of the old wine measure. [238.669725 litres]
hogshead, a measure of capacity 52½ imperial gallons or 63 wine gallons; a large barrel or cask.

Gatiepie slinger oorie Parara oppad na die stasie. Polisieman keer hom voor en sê: “Ek sien Bacchus is met jou”. Gatiepie: “Naai OB, ek is allien, ek kennie daai boytjie nie, is hy van Mitchells Plain?”

Cheers!  Proost! Hoch! Prosit! Skal! Salute! L’chaim! À votre santé! Na zdorovye!   
Ad fundum! Bottoms up and mud in your eye!
Gesondheid in die rondheid, mooi meisies in die blomtyd!
Laat hy val waar hy wil.



No comments:

Post a Comment